Wetenskaplike teling van Wedvlugduiwe

Duiweteling het ten doel die daarstel van 'n duif met 'n uitmuntende gene –samestelling wat hom of haar in staat sal stel om herhaaldelik in wedvlugte te presteer.

Die eienskappe van so 'n duif sal vertoon of besit, sal sigbaar en onsigbaar wees. Die gewensde sigbare kenmerke sal nie noodwendig beteken dat die onsigbares ewe eens die gewensdes is nie.

Praktiese nageslagtoetsing of prestasietoetsing sal wel kan aandui dat die gewensde onsigbare eienskappe moontlik teenwoordig is, al dan nie. Duiwe met 'n gebrek aan sigbare gewensde eienskappe verbaas ons so gereeld soos klokslag met uitmuntende prestasies dat ons moet aanvaar sigbare kenmerke is ook feilbaar.

Die eienskappe waarna ons vermoedelik streef is natuurlike, blywende gesondheid of immuniteit, intelligensie of oeriënterings-vermoë, anatomiese en fisiologiese doeltreffendheid, visuele vermoëns, spierkrag en soepelheid, veergehalte en veral ook die sub-eienskappe naamlik respiratoriese en kardiovaskulêre doeltreffendheid.

Dit is verstane dat die gehalte van hierdie eienskappe slegs deur die wedvlugmandjie betroubaar geopenbaar sal kan word. Visuele waarneembare kentekens kan slegs 'n vermoede van uitmuntheid daarstel.

'n Verdere probleem waarmee duiwetelers te kampe het, is die uitwerking van eksterne faktore op die gewensde eienskappe. Subkliniese siektes, parasiete, ongebalanseerde of wanvoeding, ooroefening of wedvlugdeelname, oordosering met medisyne, ongunstige hok of omgewingstoestande en so meer is almal faktore wat uitmuntende genesamestelling ordinêr kan laat vertoon.

Dis duidelik dat die totale versorging en bestuur van broei en vliegduiwe, insluitend prestasietoetsing, van belang is om duiwe se ware gehalte te openbaar. Dit kan ook aanvaar word dat presies dit die rede is vir prestasieverskille tussen duiweboere. Duiweboere wat hoë bestuurstandaarde handhaaf, behaal goeie resultate oor 'n breë spectrum van wedvlugtoestande en hulle vermag dit by herhaling.

Hedendaags word dit ook al hoe duideliker dat afstand differensiasie 'n werklikheid is. Sekere tipe duiwe presteer slegs oor kortafstande terwyl ander weer uitnemend oor langafstande presteer. Wedvlugmetodes oefen ook hier 'n betekenisvolle invloed uit.

Die tyd kom dat duiweboere sal moet besluit waarin hulle spesialiteite geleë is. Wedvlugprogramme sal ook dienooreenkomstig aangepas moet word.

Duiweboere moet ook kennis neem daarvan dat 'n suksesvolle telingsprogram slegs sukses sal meebring as die totale versorging en bestuurprogram van 'n hoë standaard is.

Vestiging van uitnemende telingsprogram:

'n Suksesvolle telingsprogram vereis die volgende:

Die gebruik van bewese hoë gehalte teelduiwe of hulle nageslag.

Teelduiwe waarvan die nageslag deeglik d.m.v. prestasietoetsing ge-evalueer is.

Teelduiwe waarvan 'n teling geskiedenis strekkende oor 5-6 geslagte beskikbaar is.

Teelduiwe wat reeds gewys het dat hulle met ander families voortreflike nageslag kan voortbring.

Teelduiwe met 'n homogene genesamestelling.

Teelduiwe wat met ander duiwe, met homogeniteit, voortreflike heterosigositeit of basterkrag kan bewerkstellig.

Teelduiwe uit families wat oor 'n lank periode (5-6 geslagte) aan inteling en of lynteling onderworpe was, uitgekruis en prestasie getoets is onder toestande van inteling en of lynteling en kruisteling.

In die praktyk sal daar dus gesoek word na 3 of 4 families duiwe wat suiwer gehou is deur in of lynteling en waarvan die nageslag getoets is. Hetsy in homogenetiese of heterosigotiese vorm.

Vervolgens sal die teler die tegnieke van in, lyn en kruisteling binne families en kruisings onderling tussen families voortsit en die gevolglike nageslag onderwerp aan toetsing in webvlugte en oefenvlugte.

Seleksie van in en lyngeteelde individue:

Dit sal aan die hand van maatstawwe soos gesondheid, fisiese kenmerke en wedvlugprestasie geskied. 'n Verdere maatstaf sal wees die presentasie van hul kruisgeteelde nageslag en laasgenoemde se fisiese gehalte. Dit spreek vanself dat seleksiemaatstawwe van toepassing op kruisduiwe se prestasies, baie strenger gaan wees as in die geval van in en lyngeteelde duiwe.

In die praktyk sal gevind word dat verliese en uitskotte onder in en lyngeteelde duiwe heelwat groter gaan wees as met kruisduiwe. Dit is weens verswakking van heterosigositeit of basterkrag. Praktiese telingsprogramme besit ruimte vir aanwending van eerste-kruisduiwe wat die moontlikheid inhou dat as hulle weer met 'n onverwante homosigotiese duif geteel word, hibriede of super-basterkrag nageslag voortgebring kan word.

Deur Ernest Pawson

Find us on Facebook
Follow Us